Leef en deel geloofsekerheid…..
Hy het in die GEM sending grootgeword op Nongoma en Dingaanstat, Zululand. Sy pa het op Dingaanstat ‘n kerk, ‘n plaas, ‘n skool, ‘n evangelisteskool en ‘n weeshuis gevestig. Die Standerkinders moes vakansies inval by al die arbeid wat nodig was.
Hy het by Bantoe-onderwys begin werk en later as werkstudiebeampte. Hy was een van die vyf rekenaar programmeerders van die eerste programmeringspan van die Staatsdienskommissie in 1965. Hy trou meer as 50 jaar gelede met Hanli en hul vestig in PTA waar hy al vroeg met sy sending bediening begin deur Sondae kerk by die tronk te hou. Na hul aftrede in Durbanville raak hy deel van die plaasbediening op Welgegund.
Hercules is baie musikaal en het al verskeie liedere geskryf (musiek en liriek) in sy lofprysing tot God. Hy is sewe jaar gelede met miëloma (onbeheersde plasma vermeerdering) gediagnoseer. Ten spyte van skadu oor sy kop en impak van voortdurende chemo, gaan hy nie net voort met plaasdienste, maar skep ‘n volledige aanlyn weergawe van ons belydenisskrifte – met gekoppelde (teks)verwysing, sing bas in die Conspiritus koor en begin ‘n Bergsig omgeegroep vir kankerlyers. Twee weke gelede ontvang hy ‘n pasaangeër.
Hercules is nie net ‘n vriend wat jy graag wil hê, hy is ‘n ware dissipel van Jesus. Hy leef en deel geloofsekerheid.